President Jaarverslag

  1. Algemene Oorsig:

2019 was omtrent ‘n “roller coaster” van ‘n jaar! As ek terug dink aan Februarie 2019 en waar ons nou staan, staan ek verstom oor wat die George Landbouskou Raad bereik het. Ons het ons baie goed van ons taak gekwyt om ‘n skou suksesvol aan te bied met probleme soos: verbrande bruê met borge, geen brondokumente, te min geld, nie ‘n sekretaresse en ‘n raad met splinternuwe topbestuur sonder enige kontiniuteit van die vorige topbestuur.

  1. Portefuljes:

Die raad het daarin geslaag om al die portefuljes behalwe die Jeugskou se poste vir 2019 suksesvol te vul. Ons is jammer om aan te kondig dat ons tans ‘n vakature het by ons vleisbees afdeling na die bedanking van Tienie Dirks.

Vleis en Melkbeeste was vanjaar weer van topgehalte met regtig prag diere wat deelgeneem het. Ek dink die beestent en ring was besonder goed georganiseer en baie mooi gewees.

Skape was ook weereens een van die hoogtepunte op die 2019 skou. Skeer demonstrasies deur BKB was veral gewild gewees.

Perde was vanjaar groter en meer ondersteun as in vorige jare met ‘n rekord getal inskrywings. Dit het ook vir my gevoel asof die publiek baie meer as vantevore die perde ring besoek het.

Huisvlyt het gesorg vir groot blydskap met hul terugkeer na die George Skou. Die publiek was gaande oor die huisvlyt saal en ons sien met groot afwagting uit na 2020 se huisvlyt saal.

Die hoenders het op hul beurt gesorg vir groot vermaak en belangstelling vanaf skougangers. Daar was in die afgelope 7 plus jaar wat ek reeds op hierdie raad dien nog nie so ‘n hoender skou soos wat ons vanjaar beleef het nie. Die entoesiasme waarmee Gerard die hoenders aangepak het was aansteeklik vir die res van die raad.

Vermaak en Stalletjies het ook hul deel van kopseer en bekommernis vir die raad meegebring. Met kunstenaars wat nie beskikbaar was nie en geen databasis van vorige stalletjie houers was hierdie maar ‘n moeilike saak gewees. Maar soos  hul sê eind goed als goed! Op die einde van die dag het ons ‘n baie goeie en interessante “line-up” van kunstenaars gehad wat genoeg voete getrek het en wat die publiek baie geniet het. Die nuwe Op die Stoep verhoog waar plaaslike kunstenaars kon optree en hulself bekend stel, was ook ‘n groot treffer onder skougangers gewees. Die stalletjies was bo verbasing almal uitverkoop en kon ons nog meer stalletjies verkoop indien ons die nodige spasie daarvoor sou hê. Na afloop van die skou het stalletjie houers vir my in persoon bedank en baie goeie terugvoer gegee rondom hul ervaring tydens die 2019 skou.

Sport: Daar was ‘n groot verskeidenheid van sport aangebied. DCAS was weer vanjaar betrokke as borg by die sport. Die Saterdagaand se Ovaalbaan wedrenne het gesorg vir groot opwinding en ekstra voete.

Hekke:  Hekke het vanjaar besonder goed gefunksioneer met die hulp van Computicket en die nuwe manier waarop ons kaartjie verkope asook toegang tot die skou hanteer het.

In 2019 het ons heel party kompetisies en spesiale geleenthede aangebied. Dinge soos die Mej & Mnr Skou, die Gryse Jeug, die Manne ontbyt en die Vroue oggend was baie relevant en baie goed ondersteun. Hierdie is ‘n klomp werk en was besonder goed georganiseer.

Finansies het ook hierdie jaar ‘n nuwe baadjie aangetrek! Vir die eerste keer het die skouraad ‘n tesourier wat ook bygestaan word deur ‘n hulp tesourier. Ons het hierdie jaar geregistreer vir BTW en het ook in lyn met goeie finansiële riglyne en beginsels ‘n nuwe ouditeursfirma aangestel.

  1. Terrein uitleg

Ons het groot en baie komplimente ontvang vir die nuwe terrrein uitleg asook terrein plan van 2019. Van die grootste veranderinge was die skuif van die mallemeule en vermaaklikheidstent. Dit het daartoe gely dat daar tesame met die ekstra ingange na die skou ‘n baie beter vloei van skougangers deur die terrein was. Die nuwe parkeerblokke met aanwysings het parkering baie vergemaklik vanjaar. Die spesiale nood roetes wat ingebring was, was van groot waarde vir nooddienste op die 2019 skou. “OHS signage” was vir die eerste keer op die skou terrein aangebring met meer as genoeg aanwysingsborde asook parkering borde.

  1. Jeugskou

Alhoewel ons nie ‘n vaste komitee lid vir hierdie portefeulje gehad het nie, was die Jeugskou nogsteeds ‘n groot sukses in 2019. Spesiale dank aan Mnr Jurie Wessels wat ingespring het om ons te help hiermee toe ons regtig in die nood was. Ons het nie vanjaar kulinêre kuns aangebied nie. Ons is in onderhandelinge met die Departement en verskeie rolspelers om met ons hande te vat vir die 2020 Jeugskou. Ons moet vanaand of in die nabye toekoms ‘n komiteelid vir die Jeugskou verkies.

  1. Computicket

Ons het vanjaar vir die eerste keer van Computicket gebruik gemaak om vir ons te help met kaartjieverkope online sowel as by die hekke. Dit het vir ons ekstra blootstelling met advertensie in alle Shoprite/Checkers winkels regoor die Wes-Kaap gegee. Dit het verder vir ons ‘n baie meer professionele aanslag met kaartjieverkope gegee en stel ons in staat om presiese ontledings van kaartjieverkope en besoekersgetalle te kan gee. Dit is my voorstel dat ons verseker in 2020 weer van Computicket gebruik sal maak.

  1. Ovaalbaan renne:

Nuwe verhoudinge is begin bou met die bestuur van die Ovaalbaan mense. Dit het daartoe gelei dat hulle deel gevorm het van die Sport program en selfs ook ‘n stalletjie tydens die skou gehad het. Die ovaal renne van Saterdag aand het gesorg vir goeie opwinding en heel party ekstra voete. Ingangsbeheer van hierdie renjaers was glad nie ‘n probleem nie en selfs die toeskouers het bo verwagting goed saamgewerk met ons hekpersoneel en sekuriteit.

  1. Swak en goeie punte vir 2019:

Swak punte:

  • Akkreditasie

Goeie punte:

  • Aanstel van Safety Officer
  • Computicket
  • Nuwe parkeer areas
  • Fiesta
  • Sosiale media veldtogte
  • Motors as uitstallers

Waarheen is ons op pad in 2020?

Met die besondere goeie basis wat die raad vir hulself gebou het in 2019 kan dit net nog beter gaan met ons in 2020. Ons het reeds by verskeie ander skoue gaan kers opsteek en met die oog gesteel om 2020 meer uniek te maak en die George Landbouskou tot groter hoogtes te lei. Ons is reeds besig om ons vere reg te skud tov ons temas, posters en sosiale media pakkette om die 160ste George Landbouskou in plek te sit vir 2020.

Baie dankie aan elkeen van my raadslede vir jul onbaatsugtige opofferings in 2019. Sonder julle sou ons verseker nie hierdie wa deur die drif kon kry nie. ‘n Meer spesiale woord van dank aan elke raadslid se eggenoot/eggenote vir jul bystand, hulp en ondersteuning.

CORNé BOTHA
PRESIDENT:  GEORGE LANDBOUSKOU