George Landbouskou

Uitmuntende ruiterskap by George Landbouskou se perdeafdeling

Die perdeafdeling van die George Landbouskou 2025 het hierdie jaar ruiters, eienaars en toeskouers bekoor met uitmuntende ruiterskap, vasberadenheid en die pragtige samewerking tussen perd en ruiter. Van springbane tot elegante gangperde, die kompetisie het getuig van hoë standaarde en groot passie.

In die 40cm Jumping-item het Esmeralda Roux vir die eienaar Carla De Swardt die Groot Kampioenstitel ingepalm met haar perd Phoenix in ’n indrukwekkende tyd van 34.76 sekondes. Letazha Leeuwenaar op Rocking the Blues het die Reserwe Kampioen geword met ’n tyd van 40.36 sekondes.

Die 60cm Jumping-titel is gewen deur Briana Grobler vir die eienaar Sandra Beetge op Diago (39.29 sekondes). Leeuwenaar en Rocking the Blues het ook hier sterk presteer en die Reserwe Kampioenstitel verower met ’n tyd van 40.45 sekondes en 4 faults.

By die 80cm Jumping het Grobler weer haar slag gewys en saam met Phoenix (eienaar Carla De Swardt) die Groot Kampioenstitel gewen met 40.80 sekondes. Minki Barnard op Autum Glow het die Reserwe Kampioenstitel ingeneem met ’n tyd van 46.56 sekondes.

Die gangperde-afdelings het ewe veel glans getoon.

  • In die 3 Gang Saalperd Divisie is Tenika Adam vir die eienaar Sanna Botha van Hillside Stables op Ocksan Jacklyn gekroon as Groot Kampioen.

  • Die Vlaam Divisie het aan Carmen Bakker op Riempie (eienaar Phillipus Kleinhans) die Groot Kampioenstitel besorg, terwyl Briana Grobler op Ivette die Reserwe Kampioen was.

  • In die 3 Gang SA Boerperd het Piet Uys van Hoofbeat Stables in Swaziland met Hoofbeat Wildcat as Groot Kampioen geseëvier, en Esmeralda Roux op Nikka Landon die Reserwe Kampioenstitel ontvang.

By die 3 Gang Ope Ryperd Adult het Crystal Venter met Leading Lady die Groot Kampioenstitel gewen. Marieke Conradie vir Adeltrots SA Boerperd Stoet het die Reserwe Kampioen met Harmonie Lelie geword.

In die 5 Gang Saalperd-klas het Sanna Botha van Hillside Stables met Ocksan Jack’s Rox Star as Groot Kampioen uitgeblink, terwyl Tenika Adam op Tornado’s Legacy as Reserwe Kampioen gekroon is. Die 5 Gang SA Boerperd-afdeling het aan Michelle Coetzee van Homestead Stables die Groot Kampioenstitel besorg met haar perd Elevation Boeta Suidwesterwind.

Die jong ruiters het ook hul merk gelaat: In die 3 Gang Ope Onder 18 het Carmen Bakker vir die eienaar Karen Lombaard met Jack Rabbit Groot Kampioen geword, en Madison O’Connel vir Adeltrots SA Boerperd Stoet met Samjak Brander die Reserwe Kampioen.

Laastens het die indrukwekkende trekperde hul statigheid gewys. In die Heavy Draught Riding Horse-afdeling is Maritz Visser vir die eienaar Kayla Oosthuizen as Groot Kampioen gekroon op die pragtige Chief of Galax.

Die perdeafdeling het nie net die hoë gehalte van teling en opleiding in die streek bevestig nie, maar ook die liefde en toewyding van ruiters en eienaars. Dit was ’n hoogtepunt van die George Landbouskou en ’n viering van perde van formaat.

Scroll to Top