Die glans en glorie van die George Landbouskou 2025 is Saterdag, 16 Augustus, bekroon met die aanwysing van die nuwe Skou Koningin. By ’n stylvolle gala-geleentheid het Chantelle Volschenk die kroon verower as die nuwe George Landbouskou Skou Koningin.
Saam met haar is Belinda Stroebel as Eerste Prinses en Monique Kirsten as Tweede Prinses aangekondig. Die drie dames sal die komende jaar die gesig van die skou wees en ’n belangrike rol speel in die verteenwoordiging van die Landbouskou in die gemeenskap.

Organiseerders het gesê dat die aand een van styl, trots en feesviering was, en die gehoor het die wenners luid toegejuig. “Ons is ongelooflik trots op Chantelle, Belinda en Monique. Hulle verteenwoordig die hart en gees van die George Landbouskou en ons sien uit na die jaar saam met hulle,” het die komitee laat weet.
Die George Landbouskou, wat jaarliks duisende besoekers lok, bly een van die hoogtepunte op die Suid-Kaapse kalender en die verkiesing van die Skoukoningin is altyd ’n hoogtepunt in die skouprogram.