Die onlangse uitbreek van Bek-en-klouseer in Suid-Afrika het ’n beduidende impak op die landbousektor en
spesifiek op landbouskoue regoor die land.
Die George Landbouskou neem hierdie situasie ernstig op. Die beskerming van ons boere, hul diere en die
breër landbou-ekonomie bly ons hoogste prioriteit. Daarom het ons, in lyn met verantwoordelike
biosekuriteitspraktyke, die moeilike maar noodsaaklike besluit geneem om geen gesplete hoefdiere tydens
die 2026 skou ten toon te stel nie.
Ons besef dat hierdie besluit ’n groot teleurstelling is – nie net vir ons span nie, maar ook vir deelnemers,
besoekers en borge. Ongelukkig het dit reeds gelei tot die verlies van sekere borge weens die afwesigheid van
tradisionele veetentoonstelling.
Maar landbou is soveel meer as net diere.
Ten spyte van hierdie uitdagings, het ons die geleentheid aangegryp om die skou te herbedink en nuwe,
innoverende maniere te skep om landbou ten toon te stel:
- In samewerking met die Wes-Kaap Departement van Landbou bied ons ’n Boeredag aan, waar boere
toegespreek sal word oor relevante en kritieke landbou-onderwerpe. - Ons vervang die tradisionele skaapuitstallings met ’n Werksdag vir plaaswerkers, gefokus op
praktiese opleiding in skaaphantering. - Skole sal genooi word vir ’n opvoedkundige ervaring, waar leerders deur visuele hulpmiddels meer
sal leer oor skaaprasse, wol- en vleisproduksie. Hierdie sessies word ondersteun deur Corné Nel van
BKB. - Ons stel ’n uitgebreide Landboutent bekend, waar plaaslike produkte soos avokado’s, neute, bessies
en aartappels uitgestal sal word – met fokus op kultivars, produksiemetodes en praktiese
demonstrasies. - ’n Groot pluimvee-afdeling sal ook deel vorm van die skou.
- Ons perde-afdeling sal groter as ooit wees, met verskeie aktiwiteite en uitstallings.
- Verder sal streng biosekuriteitsmaatreëls toegepas word om te verseker dat die skou nie bydra tot die
verspreiding van bek- en klouseer nie
Hoewel hierdie jaar se skou anders gaan lyk, is ons opgewonde oor die nuwe moontlikhede en die kans om
landbou in ’n breër konteks aan die publiek bekend te stel.
Ons nooi alle boere, borge, gesinne en skoolkinders uit om deel te wees van hierdie unieke ervaring by die
George Landbouskou van 27 tot 29 Augustus 2026.
Kom ontdek saam met ons hoe landbou aanpas, groei en voortgaan – selfs in uitdagende tye.




