George Landbouskou

George Landbouskou 2025: ’n Fees van Tradisie, Landbou en Gemeenskap

Die laaste week van Augustus het George weer eens laat bewe van opgewondenheid toe duisende mense die skougronde ingevaar het vir die 164ste George Landbouskou. Van 28 tot 30 Augustus het die dorp se hart geklop op die ritme van perdehoewe, musiek, gelag, en die geroep van veekampe. Dit was ’n naweek waar landbou, kultuur en gemeenskap soos altyd hand aan hand geloop het – ’n viering van alles wat die Suid-Kaap uniek maak.

Die openingsdag het dadelik momentum gegee. Nog voordat die skougronde amptelik volgestroom het, het sakelui, boere en leiers reeds om die ontbyttafel vergader. Daar het die gerespekteerde ekonoom Dawie Roodt sy stem laat hoor. Sy insigte oor die ekonomie en landbousektor het nie net hoop en perspektief gebring nie, maar ook ’n gevoel van eenheid: die wete dat die uitdagings van vandag net saam oorkom kan word. Dit was die perfekte afskop vir ’n naweek wat sou wys hoe diep die wortels van samewerking en vernuwing in die streek lê.

Soos altyd was die diere die ware sterre van die skou. Van die trots wat boere gevoel het toe hul Merino- en Dohne Merino-kuddes beoordeel is, tot die pluimvee-afdeling se ryke verskeidenheid – oral was daar tekens van toewyding en harde werk. Dit is hierdie oomblikke, tussen die skuurdeure en die stalletjies, waar ’n mens die hartklop van die Suid-Kaapse landbou regtig voel.

Maar die skou was meer as net boerdery. In die perde-arena het ruiters hul vaardigheid en elegante perde hul krag ten toon gestel. Erfenis Plaas het gesinne laat glimlag, met kinders wat giggelend koeie gemelk en kalwers gevoer het. Dit was vir baie ’n eerste kennismaking met die plaaslewe – ’n eenvoudige maar kosbare ervaring wat lank sal bly hang.

George Landbouskou het ook met trots die Jeugskou aangebied waar skole van regoor die Westelike Provinsie kom deelneem het. Die toekomstige boere en uitsallers is opgelei en touwys gemaak waarna hulle teen mekaar deelgeneem het.

Sportliefhebbers is nie teleurgestel nie. Van padel tennis en karate tot kickboxing, Titan Fight Night en toutrek – die program het gewys dat die skou meer as net ’n boerefees is. Selfs skaak het sy plek gevind tussen die adrenalien, en rieldansers het die ritme van die Karoo en die platteland op die verhoog laat leef. Die sport is afgelsuit met die ovaalbaan kompetisie wat tot laat in die nag mense vermaak het.

Teen Saterdagaand het die skou sy klimaks bereik. Toe die jong Suid-Afrikaanse sanger Elandré om 20:30 die verhoog betree, het die energie op die terrein net eenvoudig oorgeneem. Sy stem het oor die skougronde weerklink en die skare het saamgesing, saamgespring, saam gejubel. Dit was nie net ’n konsert nie – dit was ’n viering van gemeenskap, van saamwees.

Tog, tussen die vermaak, sport en musiek, het die ware karakter van die George Landbouskou steeds deurskyn: dit is en bly ’n gesinsgebeurtenis. Jong en oud het oor die stalletjies gedwaal, handwerk en kuns bewonder, iets lekkers geëet en die geselskap van bure en vriende geniet. Die atmosfeer was deurdrenk van tradisie, maar met genoeg nuwe elemente om vars en verrassend te bly.

Na 164 jaar bly die George Landbouskou nie net ’n kalendergebeurtenis nie – dit is ’n stuk lewende geskiedenis. Dit is die tweede oudste landbouskou in Suid-Afrika, en tog voel dit elke keer nuut wanneer die hekke oopmaak en die mense instroom. Hierdie jaar het dit weer bewys dat dit veel meer is as ’n skou; dit is ’n ontmoetingspunt van generasies, ’n fees van harde werk, kultuur en trots.

En nou, terwyl die stof stadig gaan lê en die stalletjies leeg raak, bly daar een ding seker: die afwagting vir 2026 is reeds aan die bou. As die verlede enige aanduiding is, beloof dit om nóg groter, nóg beter en nóg onvergeetliker te wees.

Scroll to Top